Die Heelalburg van Hertog Bloubaard (deel 2)
- door Carina Stander
Die burg van Hertog Bloubaard, deur H.J. Pieterse
Uitgegee deur Tafelberg, Kaapstad, 2000
Slapband, 105 bladsye/ 60 gedigte
ISBN: 0-624-03905-6
In November 2007 se essay vir in Letterland het ek die mitologiese gegewe van die Bloubaard-figuur en die toepassing van die Bloubaardsprokie in die digbundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000) van H. J. Pieterse ondersoek. Vandeesmaand bespeek ek sowel die doodtematiek en die sikliese Heelaleier, as die styltegnieke in die bundel.
DOODSTEMATIEK EN DIE SIKLIESE "EIER VAN DIE HEELAL"
By die oopmaak van Die burg van hertog Bloubaard dien 'n aanhaling van Rainer Maria Rilke as voorspel vir die sikliese gang van die verse: "Nirgends, Geliebte, wird Welt sein, als innen. Unser Leben geht hin mit Verwandlung. Und immer geringer schwindet das Aussen". Dit word vertaal as: "Nêrens, geliefde, sal daar 'n wêreld wees as binne nie. Ons lewe gaan voort met verandering/ metamorfose en altyd kleiner verdwyn/ vervaag die buitekant."
Dat hierdie bundel draai om die raaisel van lewe, dood en vervreemding, is ook kenbaar aan die motto van Ted Hughes: "You were never more than a step from Paradise". By implikasie erken Huges hiermee dat die mens altyd naby is aan die dood en gevolglik ook aan 'n nuwe lewe na die dood.
Die tussenbladsye van die bundel is 'n afdruk van die bekende weergawe van Hildegard van Bingen se visioen van die kosmos, Die eier van die heelal. Die Eier-aarde is 'n antieke simbool wat volgens Cirlot dui op die oerbegin, die matriks, die spasie in die middelruim. Verder word dit verbind met vroulike vrugbaarheid en primordiale kragte.
"In all these images we can descry the attempt to express the sexual principles of the cosmos:. the egg of the World is connected with the feminine princicle" (1962:244).
Die Heelaleier word veral in die Sinfonia-reeks ontgin: Hildegard van Bingen se mistieke Viriditas oftewel, groen krag, staan konstant in verhouding met intense lyding, selfs dood. In Sel (bl. 73) word die lewe-en-dood-siklus beeldend verwoord:
Die hele nag lank slaap ek in my maag,
toegevou in my swart beervel,
toegespin soos die wurm
in sy drywende kokon.
Alle kreatiewe lewe is afhanklik van dood en ontbinding. Lewe is afhanklik van dood en andersom. Dié sikliese konsep van viriliteit ná die dood, lê aan die hart van hierdie bundel. Dit vind onder meer inslag in Die bye en die hart (bl. 31):
Driehonderd jaar later word sy graf oopgemaak;
in die korf van sy bors vind werkers 'n nes
van soetheid, oor Laura, déúr Petrarca se hart.
In Gideon Scheepers (bl. 58) kry die dooie liggaam van die verkenner ikonografiese status. Sy liggaam word 'n offer aan die aarde en sodoende word die proses van metamorfose verder verkonkretiseer.
Hulle het my sonder kis of lykkleed begrawe,
en in Maartmaand het die koring uit die graf uit gegroei.
Die talle verwysings na slaap of droom, kan gelees word as 'n metafoor van die onbewuste of primordiale en herroep ook assosiasies met die dood. Kwartet vir die einde van die tyd I (bl.16) maak melding van drome as die "afsterf van herinnering aan my, aan jou, aan ons". In Artisjok (bl. 45) staan slaap (ook die seksuele) en dood in verhouding met mekaar. Die openingsreëls lui: "Laatnag vleg 'n skielike ritseling/ my stadig los/ uit swaar arms van my geliefde, donker suster van my dood". Terwyl die slotstrofe (bl.46) praat van "die strelende hande van jou geliefde,/ jou lokkende suster van die slaap." Die dood dui hier op petite mort - die Franse kleindood of orgasme.
Die dromerige, mistige, newelagtige of skaduryke in die bundel, dien as suggesties vir die oorgangsfase tussen lewe en dood. Wanneer teenoorgesteldes mekaar ontmoet - die oorgang van een seisoen in 'n ander, van dag na nag, die samekoms van man en vrou, land en see - vervaag die grens tussen droom en werklikheid op 'n surrealistiese wyse. Rilke se motto kom dan ter sprake: "Nêrens, geliefde, sal daar 'n wêreld wees as binne nie. Ons lewe gaan voort met verandering/ metamorfose en altyd kleiner verdwyn/ vervaag die buitekant." Die binnekamer of binnewêreld waarvan Rilke skryf, word ontsluit deur die metamorfose wat plaasvind tydens die skryfproses. Gevolglik verdwyn/ vervaag die grens tussen die binnekant van die "woordkasteel" waar kreatiewe lewe ontstaan en die buitekant van die kasteel wat lei tot kreatiewe dood .
T.T. Cloete merk op dat dood en kreasie sluimerend teenwoordig is in die keuse van deurlopende beelde:
"Die voël is simbool van die psige of siel, van vroulikheid, dit simboliseer onsterflikheid, kreasie, heiligheid. Dikwels, soos in die fenikssimboliek, word die voël verbind met die boom. Die boom is in die algemeen ook simbool van die godin van dood en lewe".
In mitologiese ikonografie is die feniks die samebindende simbool van vuur en lug. Soos Christus herrys die feniks uit die "as" en herleef. Die talle verwysings na trekvoëls - swane, bleshoenders, wildeganse en kraanvoëls - onderstreep die sikliese gang en tydelikheid van elke seisoen. Die vlierboom, as metafoor van dood of verlies, groei soos 'n refrein deur die bundel en word onder meer gevind in Vliergrond (bl. 31), Watervrees (bl. 40) en die openingsreëls van Vanitas (bl. 43) wat handel oor afskeid: "Die son brand korter, buig vliere lank/ en swart na mekaar". Verder word die kelder, graftombe, skaapwagtersgrot en skag gemetaforiseer as plekke van die dood. Cirlot onderskraag hierdie siening:
"That the German 'Höhle (cave) and 'Holle"(hell) are related is not without significance" (1962:40). Die grot dien beide as metafoor van die psigologiese onbewuste en as die donker, geslote baarmoedersimbool, wat weer aansluit by die sikliese karakter van die Heelaleier.
Ten laaste manifesteer die dood in 'n aantal duiwelrieë wat handel oor vampiere, sneeudemone, die leviatan, drake en gevalle engele.
In sy revolusionêre tesis, Beyond the pleasure Principle (1920) formuleer die psigoanalis, Sigmund Freud sy teorie van der Todestrieb, vertaal as die doodsinstink of die doodsdrang. Die Amerikaanse filosoof Richard Boothby, noem der Todestrieb die donkerste raaisel van die psigoanalise. In Death and desire - a psychoanalytic theory in Lacan's return to Freud (1991) spekuleer Boothby: Perhaps [it is] the only primordial force - in the heart of the psyche, of living beings, and of matter itself. [Death becomes] the soul of conflict, an elemental force of strife. (1991:1).
Freud noem hierdie fassinasie met die dood terreg "a sensation of sorrow and horror." Hy stel die vraag: as plesier die einddoel van die psige is, waarom word spesifieke, pynlike, traumatiese gebeurtenisse doelbewus herleef en herskep deur die individu? Hy verklaar hierdie fenomeen van kompulsiewe herhaling van pyn, oftewel der Wiederholungszwang, as 'n misterieuse, masochistiese neiging van die ego (Boothby, 1999:3). In masochisme word pyn en plesier subliminaal vervleg. Hy benadruk die feit dat daar met elke geval van kompulsiewe herhaling van pyn 'n onderdrukte herinnering teenwoordig is en 'n onbewuste drang "to restore an earlier state of things" (Boothby 74:1991).
Freudiaanse teorie beaam dat alle destruktiwiteit van die menselike psige 'n oorsprong vind in die begeerte na selfvernietiging. Der Todestrieb is daarom nie primêr na buite gerig nie, maar eerder 'n interne konflik van die individu teen die Self (Boothby, 1991:5). Jean Laplanche onderskraag hierdie doktrine as hy skryf: "The death drive is. radically not a drive to murder, but a drive to suicide or to kill oneself (Boothby, 1991:11)
Vanuit hierdie perspektief kan geredeneer word dat Bloubaard nie 'n drang koester om sy vrou te vermoor nie, maar eerder om homself te martel deur die herhaling van pynlike herinneringe in 'n poging "to restore an earlier state of things". Inderwaarheid word Blouaard se vrou nie vermoor nie, maar pleeg sy selfmoord deur doelbewuste oorskryding van sekere grense.
In 'n huldiging aan 'n oorlede "filosoof en vriend" ("Vir Zach", bl. 57) tree Pieterse in gesprek met homself: "En jy het geweet, déúr gestroopte been:/ omdat ons alles is, is ons alleen". Omdat ons alles is is waarskynlik die mees omstrede bundel uit die oeuvre van H. J. Pieterse. Dit gaan hier oor die afsterwe van 'n geliefde vrou vir wie die lewe te veel geword het. Op die terrein van morele filosofie het die doodserotiek waarvan die flapteks praat, groot polemiek veroorsaak. Dit is 'n bundel wat die erosinstink in sy mees blatante vorm subliminaal vervleg met der Todestrieb. In Die burg van Hertog Bloubaard is die kruisbestuiwing ook opmerklik. Dit gaan egter nie alleeenlik oor die seksuele nie, maar veral oor die weerloosheid van lyf, die verganklikheid van liefde en die pynlikheid van verlies.
Erotiek en die dood word vaardig vervleg in Vampier (bl. 22), Vliergrond (bl.25), Die ring (bl. 31) en Vlerk (bl.35). Ook in Die rog (bl.23) staan die seksuele en pynlike nie as teenpole nie, maar as komponente van die dieselfde fenomeen:
Boosaardige oester, geen pêrel.
Kwaadaardige, half-geslag-
te visse en rog. Geen masker
vir seks, geen geheim
om sagtheid te kan onthou.
Oop, rooi oester, mandjie vis
tussen strooi en klip.
Langsaan lê die rog skewelip
met vinne wat uittartend klou,
triomfantelik boos in haar dood.
In hierdie gedig verskyn die rog, soos die negatiewe animus in die vrou, as demoon van die dood. Ook in Vlerk (bl. 35) vind daar 'n botsing plaas tussen die negatiewe animus en die lewegewende kwaliteite van die anima in die man. Die man stel 'n slagyster vir 'n bleshoender en probeer dan die beseerde voël tot lewe wek, maar dit is futiel. So dien die voël dan as metafoor vir 'n beseerde man-en-vrou-verhouding waar sowel die man as die vrou die rol van skuldige en slagoffer vertolk.
Verse wat heenwys na die persoonlike geskiedenis van die sprekende ek, vorm deel van 'n transformasie siklus in Pieterse poëtiese benadering tot die dood. In die verse oor afgestorwenes erken die spreker by implikasie sy vrees om die dood in die oë te staar én sy vrees om nie te staar nie. In 'n poging om traumatiese insidente te verwerk, word dit gefiksionaliseer. Die lykdigte neig hierom dikwels na die fantasmagoriese, selfs makabere, wat lei tot die ontstaan van spanning tussen die werklikheid en illusie. Die elegiese Liturgie van kristal (bl.19) opgedra aan die ontslape Marlene, neem fabelagtige kwaliteite aan: "Jy vaar op die rug van 'n walvis,/ na 'n ander geheime, suidelike land". Die sprokiesagtige sfeer dien waarskynlik as versagting vir die spreker wat as voyeur optree van 'n tragiese selfmoord ("sagte glip van 'n lem"). Hartstog en verlies lê na aan die oppervlak en bereik 'n klimaks in die treffende slotreëls:
Voorlopig dan, dié laaste reëls vir jou,
sagte een, met ons stigmata van liefhê, my vrou.
Al maak die digter gebruik van sprokiesagtige gegewe, word die dood nie verromantiseer of geïdealiseer nie. Sonder wortels (bl.34) beskryf die dood as 'n ondergrondse plek van eensaamheid, maar telkens manifesteer die teenwoordigheid van die oorledene se afwesigheid tog op die oppervlak:
Ek klem my kake ná jare nog
om pyn met pyn te besweer oor jou;
herinnerings lê toegegroei maar skiet
deur onsigbare wortels na bo,
na verskuilde teenwoordigheid van 'n niet.
Die burg van hertog Bloubaard kan beskou word as 'n afrekening met talle herinnerings, soos verwoord in die slot van Padlangs, bl. 99: "ek skryf jou af". Die sprekende ek se hunkering na die geliefde word afgesluit met 'n reeks reisgedigte waarin hy oor plekke skryf wat hy met haar en ander vrouefigure assosieer. Hier kry die leser egter nie die beeld van 'n rustelose ontdekker nie, maar die reisverse neig eerder in die rigting van 'n besinnende staar na binne: "Wat van ons oorbly, is fragmente van liefhê." (Uit: Wat van ons oorbly, bl. 96).
Die Bloubaard-figuur kan teruggevoer word na 'n Keltiese mite oor die Sonkoning wat siklies opkom en sterf. Die man-vrou-verhouding en die siening dat die menslike liggaam met natuurwaarneming verbind word, leen ook tot die tema van metamorfose. Op 'n paradoksale wyse word die geliefde in die burg ingeperk, maar ook bevry deur middel van die geskrewe woord: sy sterf en word tot lewe geroep deur poësie. In 'n resensie in die Bruger op 12 Februarie 2001, sluit Louise Viljoen hierby aan:
"[Dit] herinner sterk aan elemente in die poësie van die Nederlandse digter Achterberg, wat eweneens. 'n gestorwe vrou tot lewe wek. Die gedig Raga waarin die omtrek van 'n afwesige vrou se liggaam getrek word deur 'n gedig en die klank van fluitmusiek, is byvoorbeeld die ene Achterberg in die skreiende verlange om die vrou se teenwoordigheid deur middel van hierdie kunsvorme op te roep."
Voorts vind die proses van transendering plaas in 'n kunsteoretiese gedig soos Voorlaaste dag (bl. 88). Dood lei tot nuwe skepping en teks skep teks. Konsepte wat herleef in een werk na die ander, getuig reeds van 'n sikiese gang. Uit kortverhale ontstaan gedigte en sekere verhale was eers gedigte. In 'n e-pos onderhoud (4 Maart 2004) noem Pieterse dat hy die laaste drie gedigte in die bundel eerste geskryf het (1989-1990) en "probeer om 'n sirkelgang te bewerkstellig van kastele/ burge/ forte in Europa tot terug in Afrika, Mapungubwe." In Liturgie van kristal (bl.19) vaar die oorledene op 'n "langboot, wit boot" of "ligte boot", terwyl die "langboot" ook aanland vir die koning wat uit die dood opstaan in Mapungubwe III (bl.102). So word die metamorfose waarvan Rilke skryf, voortgesit en die Heelaleier voltooi.
BESPREKING VAN TEGNIEKE
Pieterse is in Wageningen, Nederland, gebore en die Europese kultuurgeskiedenis as bron van digterlike inspirasie raak hom ten diepste. In Die burg van hertog Bloubaard wend hy hom tot die terrein van intertekstualiteit wat funksioneer op beginsels wat ooreenstem met spinnekopwebbe, labarinte en palimpses. Interteks word gebruik vir aansluiting en persoonlike kommentaar, nie as negering of teespraak nie. Die gedigte steun op verskeie kollektiewe kodes uit 'n breë verwysingsveld: die skilderkuns, musiek, kultuurgeskiedenis, relegie, letterkunde, die natuur, astrologie, argeologie en argitektuur. Dit verleen aan die bundel 'n outentieke karkater, terwyl verse wat inspeel op die hedendaagse Suider Afrikaanse landskap, 'n illusie van toeganklikheid by die leser skep.
Pieterse was 'n briljante student wat al sy grade met lof geslaag het - dit is kenbaar aan die goeie navorsing vir die bundel. Intellektuele digters staan dikwels die gevaar om lesers te "verloor" deur die "tentoonstelling" van geleerdheid. Op geen stadium skep Die burg van hertog Bloubaard die indruk van 'n vakboek nie. Deurleefde kulturele kennis word op 'n subtiele wyse vermeng met die folkloristiese, emosionele, primitiewe en mistieke. Selfs wanneer die feitlike betrek word (soos in die geval van die Middeleeuse abdis Hildegard van Bingen en die koning van Mapungubwe) dien dit as 'n allegorie van die mens se verhouding met die goddelike in 'n panteïsties-evolusionêre staat.
Soos reeds benadruk, speel musiek - in besonder die opera van Béla Bartók - 'n kardinale rol in die ontsluiting van die bundel. Pieterse self speel die klavier, klarinet, tablas en didjeridoo en was jarelank musiekresensent vir die Beeld. Baie van die gedigte spruit uit musiek of maak gebruik van musikale strukture, onder meer Kwartet vir die einde van die tyd (bl.16), Liturgie van kristal (bl.19), Raga (bl.32), Aubade (bl.38), Swanesang (bl.41), Canto (bl. 47), Die honderdduisend liedere van Milarepa (bl. 60) en Sinfonia (bl. 71). Dit dra by tot die liriese toonaard en die deurlopende gebruik van ritme en klank in die bundel.
Soos in die geval van musiek en mitologie, word die herhalingstegniek effektief aangewend. Metafore wat later terugkerende simbole word, is die watersimbool en verwante: wolk, reën, mis, wasem, hael, sneeu, ysberg, gletser, rivier, meer, moeras, oseaan, koraal, vis, grag, skip en boot. In Watervrees (bl. 40) is water die simbool van onheil en dood: "Soos Phlebas, vrees Bloubaard 'n waterdood." In teenstelling met water wat van "onder die aarde" kom, is die ster as simbool van die bo-aardse prominent in beskrywings van die kosmosblom, kosmosmens, komeet en planeet. Hiervan is Stertrap (bl. 27) 'n helder voorbeeld.
Fundamentele stylverskille word in die afsonderlike gedigte aangetref. Dit wissel van die epies liriese tot die metafisiese en elegiese. 'n Wye verstegniese verskeidendheid word aangebied, onder meer die tersine (Jaargang, bl. 81), sonnet (Voorlaaste dag, bl. 88) en koeplet. Rym word onopvallend aangewend, selfs al word rymskemas gedisseplineerd volgehou in Liturgie van kristal (bl.19), Bestiarium (bl. 69) en Voorlaaste dag (bl. 88). Skerpsinnige woordspelings verras deurgans, onder meer in Rei van my vrouens (bl. 89) wat assosiatief gelees word as "Ry van my vrouens" en die titel Mis (bl. 93) wat deur die gang van die gedig as gemis, vermis of mistigheid geïntrepeteer kan word. In die slotgedig, Mapungwuwe III (bl. 102) lees ons dié dubbelbeeld: "As ek wakker word,sal ek wes kyk,/ met my vers teen die loop van die water".
Digters wat debuteer en aandag trek, staan onder die swaard van 'n opvolgwerk. Wat in besonder opval is die wyse waarop Pieterse daarin slaag om die hoofaksent van verlies oor sestig gedigte heen vol te hou deur die aanwesigheid van meevoerende beelding en skerp sintuiglikheid. Die burg van hertog Bloubaard is 'n fyn gestileerde bundel wat tydlose idees oor menswees verwoord. Pieterse slaag die moeilike toets van 'n tweede bundel met lof.
BIBLIOGRAFIE
Bartók, Béla. 1981. A kékszakállú herceg vára- Bluebeard's Castle. Woorde deur Béla Balazs. Hongarye: Hungoraton delta music coproduction.
Boothby, Richard. 1991. Death and desire - a psychoanalytic theory in Lacan's return to Freud. New York: Routledge.
Cirlot, J. E. 1962. The dictionary of symbols. New York: Philospophical library.
Cloete, T.T. "Dié gedigte ryk in alle opsigte". Beeld. 23 Oktober 2001.
Ester, Hans. "Het poëtisch universum van H.J. Pieterse". Zuid-Afrika. Junie 2001
Jung, Carl. G. 1964. Man and his symbols. London: Pambooks Ltd.
Odendaal, F.F. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor.
Pieterse, H.J. 2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg uitgewers.
Smith, Francois. "Poësie kan vertroos". Die Burger. 26 Maart 2001.
Stander, Carina. "Re: sprook". E-pos onderhoud met H. J. Pieterse. 4 Maart 2004.
Viljoen, Louise. "Verse wek weer tot lewe". Die Burger. 12 Februarie 2001.
Blauwbaard, Hildegaard van Bingen - Hughes, Bartok, hmmm, hmmm. Staan we aan de rand van een mystieke opleving, want Karavanserai gaat ook aardig die kant op. Dit lijkt me een bijzondere bundel ga er eens naar op zoek. Ik kon het Afrikaans aardig volgen.
Geplaatst door: M.H.Benders | 3 januari 2008 om 22:19