« Poëziecartoon 660 | Hoofdmenu | Een poëzieavond in Kortrijk »

Die Heelalburg van Hertog Bloubaard (deel 1)

- door Carina Stander

Die burg van Hertog Bloubaard, deur H.J. Pieterse
Uitgegee deur Tafelberg, Kaapstad, 2000
Slapband, 105 bladsye/ 60 gedigte
ISBN: 0-624-03905-6

Die burg van hertog Bloubaard Dit het H.J. Pieterse tien jaar geneem om Die burg van hertog Bloubaard (2000) te voltooi. Tien jaar sedert sy digdebuut, Alruin (1989) bekroon is met die Eugéne Marais Prys en Ingrid Jonkerprys. As redakteur van John Bojé se 'n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (1990), is hy bekroon met die Akademieprys vir Vertaalde werk en in 2007 verskyn sy vertaling van Rainer Maria Rilke se beroemde Duino-Elegieë in Afrikaans. Pieterse was jarelange redakteur van Tydskrif vir Letterkunde en sedert 1997 is hy die brein agter die gewilde Bekgevegte, oftewel "performance poetry" wat onder andere by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop (Potchefstroom) groot aftrek geniet. In 1998 verskyn 'n kontroversiële debuutbundel kortverhale, Omdat ons alles is en in Junie 2001 woon hy Poetry Internasional in Rotterdam by. 'n Jaar later ontvang hy die gesogte Hertzogprys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy tweede bundel, Die burg van hertog Bloubaard. Sodoende vestig Pieterse homself as een van die betekenisvolste figure in die hedendaagse Afrikaanse poësie. Tans is hy professor in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Die burg van Hertog Bloubaard is 'n lywige bundel bestaande uit sestig lang gedigte. Erotiese verse, die reismotief en doodstematiek domineer deurgaans, asook gesprekke met ander kunstenaars, historiese en mitologiese figure en persone uit godsdienstige en politieke strominge. Die voorblad, 'n foto van die ruïne van Gilles de Rais - die "oorspronklike" Bloubaard se kasteel - dien as voorskou van Pieterse se gesprek met dié sprokieskarakter. Die teks begin met 'n afdruk van die proloog van die komponis, Béla Bartók se opera, A kékszakállú herceg vára (1917) en sluit af met 'n afdruk van 'n stuk partituur. Die opera dien as grondmotief en as inspirasiebron van die indeling van die bundel. 'n Herhaalde afbeelding van die Middeleeuse abdis, Hildegard van Bingen, se voorstelling van "Die eier van die heelal", skei telkens die sewe afdelings van die bundel. Dit vorm 'n belangrike onderdeel vir ontsluiting. Op die laaste bladsy oorhandig die digter 'n paar sleutels aan die leser en word die leser, soos Bloubaard se vrou, bemagtig as draer van geheimenisse.

DIE BLOUBAARD-FIGUUR: MITOLOGIESE GEGEWE

Die verhaal van hertog Bloubaard vind sy oorsprong in die sprokie, Bare-bleue, van Charles Perrault wat later deur die Grimm broers oorgeneem is. In die sprokie is ridder Bloubaard die woestaard en eienaar van 'n onheilspellende burg of kasteel met 'n versteekte vertrek. Hy oorhandig die sleutels aan sy vrou, maar belet haar om die vertrek oop te sluit. Wanneer sy dit wel doen, vermoor hy haar. As wreedaard stel hy dan juis die verbod op toegang in, omdat die oortreding daarvan hom 'n rede gee om haar te vermoor.

Die geheime vertrek staan bekend as die "chamber of horrors" of die gruwelgrot. Al die verbode lewensgruwels word daarin gehuisves, wat dit des te meer aanloklik maak om te open. Gevolglik staan die Bloubaardsprokie ook in verwantskap met die mitologiese Pandora se boks, Danté se Journey into the inferno en die volksverhaal, Duisend-en-Een-Nagte.

In 'n resensie in Beeld op 23 Oktober 2001, wys T.T. Cloete op ander verwantskappe:
"Dit brei uit tot ondergrondse wêrelde wat herinner aan die Griekse hades, die Joodse sjeool, die Christene se hel of vaevuur en ten slotte Bloubaard se 'chamber of horrors'… [Dit] herinner sterk aan die Griekse Orfeus en Euridike-mite, wat soos die Bloubaardsprokie te make het met die verbode plek van die gestorwenes en met die breek van 'n belofte… Pieterse se gedigte herinner 'n mens ook aan verwante motiewe in ander kunswerke, byvoorbeeld iets van Holbein se dodedans, of die Taj Mahal, wat deur die dood van 'n geliefde ontstaan het."

In 'n bespreking in die tydskrif, Zuid Afrika in Junie 2001, wys Hans Ester op 'n verdere ooreenkoms tussen die Bloubaardverhaal en die Nederlandse sprokie oor Timpetes waarin sekere grense nie oorskry mag word nie:
"Hier bil Blauwbaard is het de man die zijn geheim verbergt en tot taboe verklaart waardoor hil de vrouw die hom tot in de laatste bilzonderheden wil leren kennen, in wezen in de val lokt. Het verbod en de liefde zijn onverenigbaar."

TOEPASSING VAN DIE BLOUBAARDVERHAAL IN DIE BUNDEL

Anders as in die tradisionele Bloubaardverhaal, tref ons in Die burg van hertog Bloubaard geen eksplisiete verbod op toegang vir die vrou aan nie. In die ongetitelde openingsgedig (bl.11) word die leser as vrou verwelkom in die kasteel en genooi om alles van nader te bekyk. Hierdie openlikheid is vreemd, aangesien Bloubaard bekend staan as 'n bewaarder van donker geheime. In hierdie kasteel, die bundel, die "burg van papier" ("Kwartet van die einde van die tyd III", bl.18) is die leser egter welkom. Ook in "Bloubaard verwelkom sy vrou" (bl.14) word sy vriendelik ontvang:

Ek wag al soveel dae op jou;
kyk hoe maer het ek geword van verlange.

Die psigoanalis, Chal G. Jung, merk in vrouemoordenaar Bloubaard 'n voorbeeld van die gevaarlike animusfiguur. As manlike personifikasie van die onbewuste in die vrou, huisves die animus beide konstruktiewe en destruktiewe eienskappe, soos die anima in die man. Jung benadruk dat die animus nie slegs oor negatiewe kwaliteite soos brutaliteit en geslotenheid beskik nie, maar ook ‘n waardevolle kant huisves wat ‘n brug kan bou na die Self deur middel van kreatiewe aktiwiteit (1964:202). In die bundelkonteks manifesteer kreatiewiteit in die vorm van die "burg van papier". Dat die leser as vroulik aangespreek word, kan Jungiaans beskou word as die lewegewende kwaliteit wat die leser aan die verse verleen.

In 'n onderhoud met Francois Smith van die Burger op 26 Maart 2001, erken Pieterse dat Bloubaard hom eerstens geïntereseer het vanuit die musiek:
"Die burg as vehicle was vir my interessanter en belangriker as die figuur van Bloubaard self. Hy is vir my hoogstens interessant in die sin dat hy 'n paar vrouens geken het en telkens alleen agterbly."

Béla Bartók se opera, A kékszakállú herceg vára (Hertog Bloubaard se kasteel) dien hierom as bloudruk of grondteks vir die bundel. Die opera word egter as raam gebruik, nie in detail nie. Bartók se librettis, Béla Balász, stel die Bloubaardstorie voor as twee stemme: hertog Bloubaard en die nuwe hertogin, Judith. Die kasteel self word deel van die handeling deur middel van 'n sug wat gehoor word. Pieterse maak gebruik van hierdie musikale gegewe in die refrein van die openingsgedig: "Slegs die eggo van die eggo van 'n sug."

Die sewe deure op die verhoog is die sewe deure van Bloubaard se psige. Die sewe afdelings van die bundel is losweg gebaseer op Balász en Bartók se indeling. Die subtemas (martelkamer, wapenkamer, skatkamer, geheime tuin, landgoed, traankamer en vrouekamer) is nie direk getransponeer na die bundel nie, maar elemente daarvan word oorsigtelik aangebied in "Droom van Bloubaard se vrou" (bl.15):

Die eerste kamer is een van pyn.
In die tweede sal sy wapens wees.
Die derde is 'n grot van bloedrobyn.
In die vierde rank 'n kruietuin.
...ek droom wat agter die vyfde deur skuil.
In die sesde saal wieg 'n meer sonder bron.
Die sewende is agter sy oë; ek is bang...

In die opera word Judith en die hertog Jungiaans voorgestel. Teen haar beterwete ignoreer Judith die waarskuwings van haar broers en ouers en trou met hertog Bloubaard. Die hertog is 'n tragiese, melankoliese, gevaarlike figuur. Judith se belydenis van onvoorwaardelike liefde, oortuig hom om die sewe deure van sy psige vir haar oop te maak.

Agter die eerste deur is 'n rooi blok teen die muur "soos 'n wond": die martelkamer met messe en spykers dui op sy wreedheid. Die tweede deur lei na die wapenkamer met oorlogharnasse. "Kwartet vir die einde van die tyd I" (bl. 16) sluit tematies hierby aan. Dit praat van "oorloë en gerugte van oorloë", hoe "aristokratiese koppe rol" en dat dit alles metafories heenwys op "die afsterf van herinnerings/ aan my, aan jou, aan ons".

Die derde deur is dié van 'n skatkamer - die simbool van kreatiewe rykdom, soos geartikuleer in "Kwartet vir die einde van die tyd II" (bl. 17):

Breek oop die kasteel na lewe ondergronds...
Terug na opgegaarde skatte in my kamers:
skilderye, boeke, vrouens, musiek.

Die vierde deur lei na 'n geheime tuin, die hertog se teer kant. Die gedig,"Artisjok" (bl.45), getuig van 'n sensitiewe benadering tot die sensuele wat Jungiaans dui op die sintuiglike, lewegewende energie in die man. Die artisjok staan ook bekend as die Venusplant wat seksuele krag opwek.

Ek vou die stingels versigtig weg,
pluk 'n paar blare en proe,
huiwerig om my tong,
donkergroen, suursoet parfuum van die nag.

Laag vir laag het ek jou afgeskil
met 'n versigtige, moedelose tong,
tot by die diep, geheime, bitter vrug
wat weer terugtrek tussen jou dye.

Agter die vyfde deur strek die hertog se koninkryk: 'n landgoed met woude, strome en berge. In die opera vra Judith: "Waar is die grense?" Geen grense bestaan nie, slegs silwergrense, want hierdie is 'n landskap van die gees. So word ook die vyfde afdeling - die langste afdeling in die bundel en die enigste een met 'n titel, "Die boek van Ure van hertog Bloubaard" - met mistiese, geestelike inhoud gevul. "Die boek van Ure" is 'n Middeleeuse tekstipe wat sy ontstaan vind in die Rooms Katolieke kerk waar rykes se gesangeboekies ryklik geïllustreer is. Die vyfde afdeling in die bundel is dus 'n boek binne 'n boek. Pieterse praat by monde van mistici wat telkens neig na die okkultistiese of visionêre: Therese Neumann wat die stigmata ontvang het, Sint Antonius van Padua wat vir die visse preek, 'n herdigting van die liedere van die Tibitaanse heilige, Milarepa en 'n vers oor die negende-eeuse Boeddhistiese meesters, Atisja en Dharmakirti. Die geestelike landskap bereik 'n hoogtepunt in die negedelige "Sinfonia"-reeks (bl.71) oor die siener, digter, plantkundige en musikus Hildegard van Bingen (1098-1179).

Die sesde deur op die verhoog lei na die traankamer. Dit is hier waar Bloubaard sy smart verberg. Hy hou die deur dig, maar die hertogin oortuig hom om ook hierdie deel van sy psige bloot te lê. Dan vermoed sy wat agter die sewende deur skuil: sy herinnerings aan vorige vroue. In die opera sing Bloubaard: "All my former wives await thee. Hearts that I have loved and cherished!" Die vroue haal steeds asem, hulle is onsterflik.

Alhoewel Bloubaard soms voorgestel word as die vergestalting van die donker manlike begeerte om ontslae te raak van 'n vrou en telkens 'n nuwe vrou te soek, is J.E. Cirlot van mening dat Bloubaard nie gedryf word deur haat nie, maar deur verlore liefde: “The secret room of Bluebeard, which he forbids his wife to enter, is his mind. The dead wives which she encounters in defying his orders are the wives whom he has once loved, that is, who are dead to his love” (1962:xlvi).

In "Droom van Bloubaard se vrou" (bl. 15) eggo Pieterse vir Balazs en Cirlot in sy verwysing na vorige vroue: "My naam het ek jare lank reeds vergeet./ Is dit Judith, Ariane, Marlene, Mariane?" "Vanitas" vir Susanne (bl. 43) handel ook oor 'n verlore liefde en aan die ontslape Marlene word 'n elegie, "Liturgie van kristal" (bl.19) opgedra. In "Die ring" (bl. 30) strewe die digter om iets van die gestorwe geliefde te bewaar deur middel van poësie:

Jou eenvoudige trouring bewaar ek steeds
saam met ander juwele onder my tong:
laaste, geheime grond
wat wag vir opvul met marmer en klip.
Soms proe ek sagte goud deur my lyf
en herinnerings aan jou papierdun vel...

Met die oopmaak van die laaste deur gee Balázs se Bloubaard - tot groot ontsteltenis van Judith - gedetaileerde beskrywings van vorige vrouens:

"The first I found at daybreak,
Crimson, fragrant early morning.
Hers is now the swelling sunrise.
Hers its cool and coloured mantle,
hers its gleaming crown of silver,
hers the dawn of ev'ry new day.

The second one I found at noon,
silent, flaming, golden-haired noon.
Hers is ev'ry noon hereafter.
Hers their heavy burning mantle.
Hers their golden crown of glory.
Hers the blaze of ev'ry midday.

The third I found at evening.
Quiet, languid, sombre twilight.
Hers is each returning sunset.
Hers the grave and umbered mantle.
Hers is ev'ry solemn sundown.

The forth I found at midnight.
Starry ebon-mantled midnight.
Thy pale face was all aglimmer.
Splendid was thy silky brown hair.
Ev'ry night is thine hereafter.
Thine is now the starry mantle."

Pieterse wend hierdie sluitstuk van die opera op 'n intelligente wyse as interteks aan in "Rei van my vrouens" (bl. 89):

Ek sien jou altyd eerste, vrou
van die oggend, wat vrolik dink
jy ken die sterrekodes van my fort
reeds vanaf die eerste dag. Jy vergeet
hoe stadig herinnerings hier wegsink.

My vrou van die middag, jou gloeiende hare
waai koper, staal en brons in die wind
deur my gange; ek onthou jou sweet
en swaelgeur in my bed. Ook jy
verdwyn met uitgeputte gebare.

Wanneer jy aan die slaap raak
soos die see, my vrou van die aand,
laat jy jou hare swart oor my val, trek dan terug
asof iets jou laat skrik in die stiltes van my ryk.
Jy stap verder, sonder om in jou slaap terug te kyk.

My allesoorheersende vrou van die nag,
jy gly heel laaste deur my klam vertrekke.
In my woordkasteel soek jy sleutels van bloed
deur donkertes van oggend, middag en aand.
Skaduwees stoot op tot oor jou tong
maar jy sing: manda liet.
Jy rimpel my slaap, vertrek dan onseker en bang.

Die Bloubaard-figuur word getransformeer tot metafoor van die psigiese ruimte van die digter: "in my woordkasteel soek jy sleutels van bloed" ("Rei van my vrouens", bl. 89) en "Ek trek my terug in my burg van papier" ("Kwartet van die einde van die tyd III", bl.18). Anders as in die tradisionele legende, val die klem nie op die vrou wat vlug van die wrede Bloubaard nie, maar eerder op die spreker se ontvlugting in woorde. Die eens bloeddorstige kasteel word dus 'n geestelike skuiling, 'n "toevlugsoord" - een van die verklaring wat die HAT aan "burg" toedig. In gedig na gedig, beeld na beeld, word die leser deur die kamers van die spreker se innerlike paleis gelei wat geleidelik ontsluit in verse van intense hartstog en verlange.

Voorts word die Bloubaardmotief aangewend om uiteenlopende aspekte van die man-vrou-verhouding uit te beeld: liefde, vrees, afskeid, kwesbaarheid, gevangeniskap en erotiek. Die bundel bevat myns insiens van die mooiste liefdespoësie in Afrikaans. Dit handel hoofsaaklik oor die sprekende ek se drang na gemeensaamheid met die vrou. Die verlange vir innerlike verbondenheid word mooi verwoord in die Indiese "Raga", bl. 32:

Voor die woord, voor die gedig begin,
voordat die omtrek van jou liggaam begin,
is daar reeds die grondtoon van 'n uitnodiging
tot 'n dans vanuit die agtergrond...

Daar is geen eenvoudige man-en-vrou, goed-en-kwaad-teenstelling in sowel Bartók se opera as in Pieterse se bundel nie. Oorvleuelings en dualismes word netjies verbeeld in die persona van die geestelike geneser, Hildegard van Bingen en in Bloubaard: albei beskik in Jungiaanse terme oor selfdestruktiewe én lewegewende eienskappe. In "Bestiarium" (bl. 69) skuil 'n lang lys diere, gevaarlik én onskadelik, manlik én vroulik in die "halfmens" Bloubaard.

In die Die burg van hertog Bloubaard word die kasteel ook voorgestel as heelalburg met kamers wat die kollektiewe bewussyn verteenwoordig. So is daar byvoorbeeld meer as een kasteel of "woordkasteel" (bl. 89). In Europese konteks vind die digter 'n kasteel in "Stonehenge" (bl. 97), soos gesuggereer in die slotreël: "Wat hét geword van my kasteel?" In Afrika is daar die koninkryk van "Mapungubwe" (bl. 100) en in "Kwartet vir die einde van die tyd" (bl.17) staan die noordelike kastele van "marmer, graniet en klip teenoor die termietkastele" van hierdie kontinent.

Pieterse rig hom tot 'n breë verwysingsnetwerk met talle intertekstuele verwysings na figure van historiese, legendariese, mitologiesie en artistike aard. Dialoog word gevoer met digters oor eeue en kulture heen: Rainer Maria Rilke, Ted Hughes, Seamus Heaney, Sint Franciscus van Assisi en Hildegard van Bingen is almal besoekend aan die heelalburg. Die roete waarop die leser deur die bundelburg geneem word, kan gelees word as 'n soektog deur die gees én as 'n reis deur die mikrokosmos.

In volgende maand se essay vir in Letterland ondersoek ek die doodstematiek en die sikliese “eier van die heelal” in Die burg van hertog Bloubaard.


BIBLIOGRAFIE

Bartók, Béla. 1981. A kékszakállú herceg vára- Bluebeard's Castle. Woorde deur Béla Balazs. Hongarye: Hungoraton delta music coproduction.

Boothby, Richard. 1991. Death and desire - a psychoanalytic theory in Lacan's return to Freud. New York: Routledge.

Cirlot, J. E. 1962. The dictionary of symbols. New York: Philospophical library.

Cloete, T.T. "Dié gedigte ryk in alle opsigte". Beeld. 23 Oktober 2001.

Ester, Hans. "Het poëtisch universum van H.J. Pieterse". Zuid-Afrika. Junie 2001

Jung, Carl. G. 1964. Man and his symbols. London: Pambooks Ltd.

Odendaal, F.F. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor.

Pieterse, H.J. 2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg uitgewers.

Smith, Francois. "Poësie kan vertroos". Die Burger. 26 Maart 2001.

Stander, Carina. "Re: sprook". E-pos onderhoud met H. J. Pieterse. 4 Maart 2004.

Viljoen, Louise. "Verse wek weer tot lewe". Die Burger. 12 Februarie 2001.

Reacties

Laat een reactie achter

Feeds

  • klik hier voor het allerlaatste (literatuur-)nieuws


    > Meer feeds...

Zoeken

  •  

Laatste reacties

Colofon

Advertenties