Vyftien musiekverse: die vloedbos sal weer vlug
- door Elbie Adendorff
In 2006 verskyn die debuutdigbundel van Carina Stander die vloedbos sal weer vlieg. In verskeie resensies oor die bundel word die digter se woordrykheid en klank- en beeldvaardighede geprys. Die gedigte spreek van 'n musikaliteit wat spruit uit die refreine, rympatrone, allitererende en assonerende klanke. Nie net is die woorde op papier musikaal nie, maar dit is ook musikaal op die oor – en daarom is dit seker geen wonder dat die digter in samewerking met Francois le Roux 'n cd saamgestel het met verse uit die bundel nie.
Francois le Roux, meer bekend as die HA! Man, is geen onbekende in musiekkringe nie. Kenmerke van sy musiek is waarskynlik die spontane ontstaan daarvan en die speelse element daarin. En daarom is dit dan ook nie vreemd dat die twee kunstenaarstemme van Carina en Francois by mekaar uitgekom het nie en dat hulle mekaar so goed ondersteun en komplementeer nie.
Die cd bevat vyftien van Carina se gedigte (die titel van die cd vyftien musiekverse omskryf waarskynlik die gedigte van Carina die beste – dit is verse wat vir almal toeganklik is om na te luister en nie noodwendig gedigte in die literêre sin van die woord nie) wat deur haar self voorgelees word; met agtergrond musiek en klanke deur Francois. Dié agtergrond musiek en klanke, voortgebring deur 'n verskeidenheid musiekinstrumente en die stem van Francois, ondersteun die stemming en gevoel wat Carina in die gedigte probeer oordra. Dit is nooit oorheersend-dominerend nie, maar subtiel op die agtergrond, soos reeds blyk uit die eerste gedig "waar jy ook al is". In die gedig "As Jy weer hierlangs kom" beklemtoon die gebruik van die aardse Afrika-tromme die uitgroei van die gedig tot meer as net die naïewe kind-perspektief op geloof. Nog goeie voorbeelde waar die musiek die woorde pragtig ondersteun is in "Voorlaaste maand" en "In die nag het ek Jou naam geroep"; waar veral in die laaste gedig die melankoliese klank van die musiek die geweldstema verironiseer. In "Gloeikrag" kom daar weer 'n speelse element na vore met die byna Franse mineur-klank; terwyl in "Blindelings" die sterk dramatiese aspek na vore kom in die gebruik van die onheilspellende tromme op die agtergrond.
Carina se voorlesings is op sigself musiek en daaruit spreek haar kunstenaarstalent. Nie net is sy 'n beeldende kunstenaar en woordskepper nie, maar sy is ook 'n stem-kunstenaar – en kan self as 'n performance-kunstenaar beskou word. Die gedig "Nomvula, Nomvula, kom speel met My" is een so 'n voorbeeld waar die performance-aspek van Carina sterk na vore kom. Die "speel" van die titel kom nie net na vore in die speelse klavierspel van Francois nie, maar ook in die speelse klank in en van Carina se stem.
Die cd is vir diegene wat Carina en Francois se werk ken en nie net Carina se verse wil lees nie, maar dit ook wil hoor – dit is 'n dankbare bydrae tot die popularisering van poësie deur gedigte op cd te sit. Dit behoort op elke poësieliefhebber, wat reeds 'n cd van Laurinda Hofmeyr of selfs Breyten Breytenbach se Mondmusiek besit, se rak.
(Enige navrae oor die cd, kan gerig word aan Carina by carinastander@btopenworld.com of by Francois by francois@hamanworld.com.)
Reacties