Jacques Brel in Afrikaans
- door Elbie Adendorff
Om Jacques Brel as 'n vertalingsprojek aan te pak en daarvan 'n verhoogproduksie te maak; en nog later 'n cd daarvan te maak, sit nie in elkeen nie. Dit is 'n waagstuk omdat so baie kunstenaars hier plaaslik, asook internasionaal, Brel se musiek vertaal en vertolk het. Die meeste van die vertolkings op Suid-Afrikaanse verhoë, geskied egter in Engels, Nederlands en Frans. En nou is Jacques Brel in Afrikaans vertaal!
Naòmi Morgan en Bernard Odendaal van die Universiteit van die Vrystaat het die vertaalprojek aangepak. Die uiteindelik resultaat is 'n kabaretvertoning My man, Jacques Brel wat in 2005 by die Volksbladfees in Bloemfontein en in 2006 by die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring is. Dit is ook in 2006 in Gent opgevoer. Herman van den Berg het die liedere vertolk en Naòmi Morgan het die rol van Brel se vrou, Mische, gespeel.
Die vertaalprojek het nog verder uitgeloop op die cd Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans. En watter sukses is dit nie – die gestroopte klank van die cd beklemtoon die nostalgiese klank van Brel - en dit is soos Brel moet klink. Met net klavier en kitaar en enkele ander musiekinstrumente, voel mens dit is al wat nodig is vir Brel. Dit is altyd moeilik om te kies watter lirieke op 'n cd moet kom – en in die geval van Brel waarskynlik nog moeiliker. Die keuse van die cd is goed aangesien mens die gevoel kry dat daar deeglik besin is oor watter liedere van Brel in die verhoogproduksie, maar ook op die cd moet kom. Die cd bevat 'n redelike goeie verspreiding van Brel se musiek en van die belangrikste temas van Brel, naamlik die liefde, die lewe, vriendskap en oudword – en dit is temas waarmee die meeste van ons kan identifiseer. Brel is natuurlik bekend vir sy "chanson" en veral vir die poëtiese klank daarin; daarom kry mens in die geslaagde vertalings baie poëtiese elemente soos rympatrone, alliterasies, 'n beeldrykheid.
Herman van den Berg is ook geen onbekende as dit by die poësie kom nie – hy het gedigte soos Die beiteltjie van NP van Wyk Louw, Windliedjie van Ingrid Jonker en Hoe ver is eendag van Antjie Krog getoonset. Sy sensitiewe benadering tot musiek kom waarskynlik die beste na vore in Brel se musiek en komplementeer sy stem en Brel se musiek mekaar. Van den Berg boots nie vir Brel na nie en gee 'n oorspronklikheid aan Brel. Die atmosfeer van Brel se musiek kom sterk na vore en Van den Berg moet geluk gewens word dat hy nie Brel probeer naboots het nie.
Die cd begin met Die sterwendes (Le moribond) wat 'n goeie begin tot die cd is aangesien dit belangrike temas van Brel, soos ontrouheid, vriendskap, Brel se afkeer aan die kerk en die dood, bevat – dit is temas wat ook in die ander liedere op die cd voorkom. Die klavierbegeleiding en kitaarklank in hierdie lied ondersteun die donker ondertoon van die lied. In kontras daarmee is die tweede lied Drinklied (La bière) wat vrolik is met 'n lekker vinnige tempo – dit is dan natuurlik 'n verheerliking van wyn en bier! Daarna wissel die tempo weer in die derde lied Die grysaards (Les vieux) wat hartseer en emotief die tema van die naderende ouderdom en die verganklikheid van die lewe eggo. Die bekende My lae land (Le plat pays) is daarna op die cd en dit is 'n interessante verwerking van die lied. Die kitaarspel is goed hier en beklemtoon die liefde van Brel vir sy land. Net soos in die vorige lied kom in Jojo die nostalgiese klank na vore wat deur die kitaarspel gedra word. By hierdie lied is die akkordeonklank ook ondersteunend en gee ietsie van 'n Franse chanson-gevoel aan die lied. Die lied wat oor die dood van 'n vriend handel, word gelukkig nie sentimenteel nie en slegs die bittere leed oor die dood van 'n vriend kom na vore.
In Amsterdam speel die akkordeon ook 'n ondersteunende rol en word daar aan die einde van die lied opgewerk na 'n crescendo. Die mooi My kinderdae (Mon enfance) is weereens nostalgies en die musiek eggo die gestroopte klank van die kinderherinneringe waaroor die lied gaan. In die klavierspel hoor mens die Nokturne in E-mol deur Franz Schubert, wat blykbaar een van Brel se gunsteling komponiste was. Om met liefde alleen (Quand on n'a que l'amour) roep die beeld van verlore liefde op. Om die tipiese somber klank van Brel op die cd te onderbreek, volg hierna die vrolike Vlamingvrou (Les Flamandes). Dit het 'n lekker vinnige tempo en die ondersteunende tuba-klank gee 'n interessante effek aan die lied. Ook hier word opgebou na 'n lekker crescendo aan die einde. Die kitaar-spel in Sneeu oor Luik (Il neige sur Liège) is rustig en dra by tot die stemmingevolle tema van herinneringe; terwyl Die bedeesdes (Les timides) se melodie interessant is. Die hortende ritme beklemtoon die tema van die lied – van dié wat sukkel in die lewe. In Die lied van die ou minnaars (La chanson des vieux amants) beklemtoon die rustige melodie die verlange na 'n geliefde. Die laaste lied, wat 'n goeie afsluitng van die cd is, is die bekende Die goeie god (Le bon dieu). Dit is veral die instrumentespel wat hier uitstaan en die walsmelodie word baie subtiel weggesteek in die lied.
Die cd toon die rou emosie wat so tipies van Brel is en deur die Afrikaanse vertalings word die tydlose musiek van Brel toeganklik vir die Afrikaanse musiekmark. Vir dié wat hou van Brel se musiek, is die cd 'n moet – veral aangesien die mooi vertalings iets van die misterie van Brel ontsluit. Die cd behoort binekort by die naaste musiekwinkels beskikbaar te wees. Bestellings kan ook geplaas word by Herman van den Berg se webwerf: www.hermanvdb.co.za.
Reacties