Performance poetry in die Afrikaanse poësiesisteem
- door Elbie Adendorff
Dit wil voorkom of podiumgeleenthede soos performances en happenings hoogs gewild in Suid-Afrika is. Hambidge (1997:114) wys in haar "Poësiekroniek" daarop dat die poësie gehoor wil word. Sy meen dat die poësie op hierdie manier meer toeganklik word, veral vir mense wat dié genre as "moeilik" ervaar. Die gewildheid van poësie as orale vorm in die Afrikaanse literêre sisteem blyk onder meer uit die toename in bywoningsgetalle en die toenemende suksesse van voorleesgeleenthede en ander literêre geleenthede soos die Woordfees op Stellenbosch, die Poetry Africa-fees in Durban, die Passaatwinde-fees in Kaapstad, die Urban Voices ('n week lange poësie-indaba) in Johannesburg en die Versindaba, wat in 2005 en 2006 gereël is deur Protea Boekhuis in Stellenbosch. Ook Alfred Schaffer (2001:1) vestig die aandag op die gewildheid van voorlesings: "Poëzievoordrachten zijn in veel landen nog steeds zeer populair en worden goed bezocht. Steeds beter bezocht. Van kleine 'venues' tot groter festivals: de dichter en zijn gesproken woord staan nog steeds stevig in de belangstelling, al worden poëzie-bundels nog altijd met kleine oplagen de wereld in gestuurd."
In Suid-Afrika is die orale letterkunde nie 'n nuwe tendens nie en kan die oerbronne van die Afrikaanse letterkunde dikwels teruggevoer word na die orale. Orale letterkunde is verhale en oorlewerings deur middel van die verbale vorm daarvan. Van die eerste optekening daarvan in die Afrikaanse letterkunde is Dwaalstories deur Eugène Marais, wat hoofsaaklik opgetekende San-vertellings is. Die rol van Antjie Krog in die vertaling en opteken van die inheemse digkuns in die bundels Met woorde soos met kerse in 2002 en Die sterre sê 'tsau' in 2004 kan ook nie onderskat word nie. Die opkoms van 'n nuwe geslag performance poets soos Diana Ferrus, !Bushwomen en Loit Sôls wys dat die orale letterkunde nog sterk staan in die Afrikaanse letterkunde. Van Wyk (2006:8) beskryf Ferrus as "Afrikaans se mees bedrewe 'performance poet'".
In Suid-Afrika is die verskynsel van performance poetry 'n nuwe fenomeen wat veral gesien word in die toename in Bekgevegte. Jare lank is gewone poësievoorlesings gehou, maar dit is volgens Van Aardt (2004:15) nie goed geboekstaaf nie. Sedert 1995 het maandelikse poësie-aande by Up the Creek in Pretoria plaasgevind, waar digters soos Gert Vlok Nel, Stephen Gray en Johann Lodewyk Marais opgetree het (Scholtz 2000:47). Pieterse (2006:2) erken dat die eerste paar voorlesings redelik stil was, maar dat dit gewilder geword het; hy skryf dit toe aan "die behoefte om gehoor te word". Die verskeidenheid digters wat gehoor is, wissel van "punks, Goths, eksperimenteles, tradisioneles, klassiekes, anargiste, pops" (Pieterse 2006:2). Van 2000-2004 vind gereelde voorleesaande ook in die Dorpstraat Teater Café in Stellenbosch plaas. Naas genooide, gepubliseerde digters, kan enige aspirantdigter/-skrywer ook op die verhoog klim en van sy of haar werke voorlees. Volgens Scholtz (2000:47) was digters soos Louis Esterhuizen en Henning Pieterse bekommerd oor die stand van die poësie, veral die verminderde publikasie van digbundels en die verkleining van die poësiemark. Esterhuizen en Pieterse wou die digkuns weer begeerlik vir die publiek maak en die poësie-aande was 'n reusesukses. Die voorlesings het egter stereotiep geraak en Esterhuizen wou iets doen om dit meer skop te gee: "poësie moet terug na die 'markplein', na sy 'oorspronklike, orale vorm'" (Pieterse 2006:2). So ontstaan die Bekgeveg in Suid-Afrika, wat sedert 1998 met groot sukses nasionaal op die planke gebring word. Volgens Pieterse (Scholtz 2000:47) het dit met drie vertonings begin in die Maskerteater van die Universiteit van Pretoria; daarna het dit plaasgevind tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, die Woordfees in Stellenbosch en op ander plekke. Pieterse (2006:2) verwys daarna dat die gehore jonger raak; hy wys ook op die terapeutiese waarde van "lewende" poësie vir die deelnemers. Floris Brown (2006) is positief oor Bekgevegte en reageer soos volg op 'n vraag oor Bekgevegte: "Is en sal altyd 'n wenresep bly. Hierdie is regtig die poësiegimansium van die brein."
Die verskil tussen die Bekgeveg en poetryslams is die skeidsregter wat by die bekgeveg optree, wat aldus Pieterse (Scholtz 2000:47) nie "sommer enige hierjy" is nie. Ek sal hom of haar selfs as die belangrikste persoon op die verhoog beskou. Die suksesse of mislukkings van menige Bekgeveg word bepaal deur die skeidsregter, aangesien hy of sy die gehoor geboeid moet hou, terwyl die digters hulle gedigte soek. Verder is die betrokkenheid van die gehoor ook in die bekgeveg belangriker as by die poetryslams. Die gehoor is aktief betrokke deurdat hulle temas en onderwerpe gee waaroor die digters moet dig, en deurdat lede uit die gehoor die punte toeken (Scholtz 2000:47). Pieterse (in Scholtz 2000:47) beweer "die gees van die gehoor bepaal ook in 'n groot mate die energie en aggressie van die vertoning".
Die Bekgeveg is 'n parodiëring op boksgevegte en vind soos 'n boksgeveg plaas. Die digters word op dieselfde wyse bekendgestel as wat boksers by 'n boksgeveg bekendgestel word met mantels en tema-musiek. Daar is ook 'n skamel geklede jong dame wat die rondtes aankondig. 'n Bekgeveg bestaan uit twee spanne met drie lede elk en elkeen van die lede het 'n bynaam. Van die bekendste Bekgeveg-spanne was die Bekbrekers (wat bestaan het uit Leon de Kock, Christo van Staden en Henning Pieterse) en die Versvreters (wat bestaan het uit Louis Esterhuizen, Marlise Joubert en Ronnie Belcher) (Scholtz 2000:47). Die digters het byname gekry: Henning Pieterse staan bekend as Dr Death en Louis Esterhuizen as Die Koggelaar. 'n Bekgeveg bestaan uit drie rondtes waartydens drie gedigte per span per rondte voorgelees moet word. Een gedig is 'n "impromptu"-gedig waar een digter per span in 10 minute 'n nuwe gedig oor 'n tema wat deur die gehoor verskaf is, moet skryf. Terwyl die "impromptu"-gedig geskryf word, gee die gehoor twee verdere temas en die ander digters moet binne 'n minuut 'n gedig, wat skakel met die tema, uit hulle eie werk vind en voorlees.
Alhoewel die podiumgeleenthede en bekgevegaande baie gewild blyk te wees, is almal nie ewe opgewonde oor dié verskynsels nie. Etienne van Zyl (2003) skryf op LitNet in reaksie op Henning Pieterse (2006) se standpunt oor bekgevegte. Van Zyl (2003) voel dat die digbundel en die bekgeveg "op produktiewe wyse met mekaar in wisselwerking gestel moet word". Hy meen dat die podiumgeleenthede slegs die behoefte van die aspirant-digter weerspieël om deel van 'n literêre groep te wees en om 'n gehoor te kry.
Die oorspronklike doel van poësie was om stories te vertel en mense het ver gereis om na die stories te kom luister (Van Aardt 2004:2). Van Aardt (2004:2) verwys onder meer na die stories van Homerus en kom tot die gevolgtrekking dat om poësie op te voer, beteken om terug te keer na poësie se oorspronklike, suiwerste vorm. Die gedagte van die ontbloting van die digter deur sy voorlesing word ook deur Van Aardt (2004:3) genoem en hy sien performance poetry as 'n "lewende bewys van die mag van hierdie ontbloting". Die temas van die Afrikaanse performance poets blyk polities en oor die onregte van die verlede te wees.
Performance poetry vervul 'n belangrike funksie in die opsig dat die sogenaamde grense tussen "hoë" en "lae" kuns oorbrug word. Dit is 'n manier vir die poësie om toeganklik te word aangesien van die gedigte op cd's beskikbaar gestel of selfs gepubliseer word. In Afrikaans wil dit voorkom of die ontwikkeling van die elektroniese media en die moontlikhede wat die cd-rom, die internet en die musiek bied baie kan doen om die poësie te bevorder.
Bronnelys
Brown, Floris. 2006. Orale kuns in transformasie. LitNet. Boekindaba. 1 Mei.
Hambidge, Joan. 1997. Poësiekroniek, nommer 8. Tydskrif vir Letterkunde 35(4): 107-116.
Pieterse, Henning. 2006. Aan al die digters daarbuite: "Different strokes for different folks". LitNet. Boekindaba. 1 Mei.
Schaffer, Alfred. 2001. "Tongues hit the street", of "Hoe ik voor even dichter was". Ervaringen tijdens het 32e Poetry Internasional Festival te Rotterdam, 16 t/m 22 juni 2001. LitNet. NeerlandiNet. 8 Julie.
Scholtz, H. 2000. Moer hom in die metafoor! Insig. Februarie, 47.
Van Aardt, Peet. 2006. Kaalvoet-poësie vir die vrou op straat. Rapport. 6 Augustus,6.
Van Aardt, Peet. 2004. Poësie rek haar bek. Die ontstaan en ontwikkeling van performance-poësie in Amerika, Nederland en Suid-Afrika. Ongepubliseerde Honneurswerkstuk. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.
Van Wyk, Steward. 2006. Afrikaans se 'performance poet'. Die ritmes roer. Die Burger Bylae. 29 April, 8.
Van Zyl, Etienne. 2003. Dig-otomie (Boekindaba reaksie). LitNet. SêNet. 30 April. [afgelaai op 1 Mei 2006].
Reacties