« Boek06 | Hoofdmenu | Vragen van Neruda aan Van Zuiden »

Is die pop en die rock-lirieke die poësie van die eie tyd?

- door Elbie Adendorff

Na aanleiding van my vorige artikel oor die stand van die Afrikaanse poësie teen die millenniumwending, kyk ek in die artikel na die vraag waarin lê die toekoms van die Afrikaanse poësie.

Dit wil voorkom of poësie deel geword het van die musieksisteem. Baie nuwe toonsettings van Afrikaanse gedigte kom in verskillende musiekgenres voor, soos rock, ballade, rap en blues-vorm. Voorbeelde hiervan is Marimba se toonsettings van Eugéne Marais en Ingrid Jonker se gedigte; Anneliese Wiid en Helena Conradie se toonsettings van Boerneef en Cussons gedigte; Derek Fordyce se Leipoldt-toonsettings wat in 2003 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees uitgevoer is; Laurinda Hofmeyr se verhoogproduksies en cd's Perd oor die maan en Agter gewone woorde van getoonsette gedigte; Hans du Plessis se verhoogproduksies en cd's Innie skylte vannie Jirre en Hie neffens my wat Griekwa-Afrikaans aan 'n groter gehoor bekend gestel het; en Chris Chameleon se verhoogoptredes en cd van Ingrid Jonker gedigte. Die sukses van Gert Vlok Nel se vertoning om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat sedert 1997 is nog 'n bewys dat die publiek poësie wil hoor. Die om te breyten-projek, waar twaalf bekende Afrikaanse kunstenaars gevra is om hulle gunstelinggedig in Breyten Breytenbach se oeuvre te toonset, is nog so 'n voorbeeld van die sukses van die orale poësievorm.

Dit wil voorkom of die Afrikaanse digkuns in 'n nuwe gedaante voortleef. Waldner (2002:13) skryf oor die herlewing van die Afrikaanse digkuns in rock, rap en blues-vorm. Sy verwys na die toonsetting van Ingrid Jonker se gedig "Die kind" wat deur 'n Pretoriase groep, Klopjag, uitgereik is. Waldner (2002:13) beklemtoon die nuwe, bemarkbare uitwerking op die Afrikaanse digkuns wat sodoende 'n langer raklewe tot gevolg het. Willie Strauss (Waldner 2002:13) se cd Jou ma se poësie en anner gedigte (wat in 2002 verskyn het) bevat toonsettings van onder meer NP van Wyk Louw en Antjie Krog. Strauss beweer dat hy sy materiaal versigtig kies, want hy moet wêrelde vir mense kan oopmaak sonder dat hulle agterkom dit is poësie.

Vir baie jongmense is musiek en lirieke soos poësie en word na musiek geluister om dieselfde redes as wat mense poësie lees: hulle identifiseer met die inhoud daarvan. Poësie is vir baie jongmense ontoeganklik en daarom vind daar 'n verskuiwing na die meer toeganklike genres soos musiek plaas. Die poësie het die reputasie ontwikkel dat dit elitisties en eksklusief is. Volgens Bosman (2003: 106) wil dit voorkom of daar 'n intensivering tussen Afrikaanse poësie en Afrikaanse musiek is wat waarskynlik saamhang met die "geweldige opbloei in Afrikaanse ligte musiek". Die opbloei kan toegeskryf word aan verskeie faktore soos die tegnologiese vooruitgang (cd's kan makliker en goedkoop vervaardig word), die instelling van gemeenskapsradiostasies, die instelling van kunstefeeste (soos die KKNK en Aardklop) en rockfeeste (soos Oppikoppi).

Die vraag kan dus volgens Bosman (2003:104) gevra word of die sogenaamde herstel in die Afrikaanse poësiesisteem nie in die musieksisteem lê nie. Die wisselwerking tussen musiek en poësie het tot gevolg dat sangers ook as digters gereken word, beweer Bosman (2003: 106).

Die streng skeiding tussen poësie en lirieke is nie 'n eietydse tendens nie. Dit het reeds in die tagtigerjare vervaag met enkele figure wat as sangers naam gemaak het en laters as digters gereken is. Daarom vind ons lirieke van Koos du Plessis in Groot verseboek en Poskaarte. Koos du Plessis het drie bundels lirieke gepubliseer, naamlik Kinders van die wind (1981), en die postume bundels Om jou verlaas te groet (1988) en Skink nog 'n uur uit my glas (1996). David Kramer en Anton Goosen publiseer ook liriektekste en van hulle lirieke verskyn in Poskaarte.

André le Roux du Toit debuteer in 1981 as digter in Brekfis met vier en word later meer prominent as die sanger Koos Kombuis. Die sanger Steve Hofmeyr debuteer in 1997 met die digbundel Valkuns. Gert Vlok Nel debuteer aanvanklik as digter in 1993 met Om te lewe is onnatuurlik, maar verwerf wyer bekendheid as sanger en word beskou as een van die min Afrikaanse performance poets.

Die vraag kan gevra word of die postmodernistiese invloed nie daartoe gelei het dat die Afrikaanse poësie vir baie lesers ontoeganklik geword het nie? In die Inleiding van die bundel Poskaart. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 noem Foster en Viljoen (1997:xxvi-xxvii) dat een van die tendense van die postmodernisme die afwys van 'n finale afsluitende betekenis is: "sodoende word die siening bevraagteken dat die wêreld berus op vaste en ewige norme". Die postmodernistiese wêreldbeskouing wat hieruit blyk is een van tydelikhied en kunsmatigheid. Dit impliseer dat daar 'n bevraagtekening van 'n enkele allesomvattende waarheid plaasvind. Dus word daar vanuit 'n postmodernistiese oogpunt geen ewigheidswaarde aan byvoorbeeld letterkunde geheg nie.

Die Afrikaanse musiektoneel beleef vanaf 1990 'n bloeitydperk en daar is 'n groot toename in kunstenaars, genres en sub-genres, optreegeleenthede en die produksie van cd's. Die indeling van kunstenaars onder etikette het al tot kwaai polemieke gelei en in 2002 en weer in 2006 het daar op LitNet debatte ontwikkel oor die sogenaamde "oorkommersiële" sangers wat van "backtracks" gebruik maak. Die debatte kan teruggevoer word na wat as "hoë" kuns en wat as "lae" kuns beskou word. "n Denkrigting wat ook in die poësie voorkom en wat teruggeneem kan word na die stryd om kanonisering.

By die jaarlikse NP van Wyk Louw-gedenklesing in 2004 het Antjie Krog die vraag gevra: "Waar en wie is die nuwe, jong digters?". Die nuwe digters neem, volgens Krog (Naude 2004:8) hulle toevlug tot rockmusiek. Krog verwys na die digter Gert Vlok Nel wat as debuutdigter deel van die Afrikaanse letterkunde geword het, maar algaande uitgereik het na die rock-verhoë. Krog (Loots: 2004:11) vra die vraag of die toevlug na die rockmusiek nie is om staanplek te kry vir 'n ander soort tematiek, 'n ander soort van digter-wees nie. Sy beweer verder dat die afwesigheid vir die jong stemme kan gevind word in jong mense se besluit om uit te wyk na area's waar hulle bestaansreg het – soos die kuberruimte, LitNet, die Afrikaanse rocktoneel en die alternatiewe beeld- en woordwêrelde van Bitterkomix. Volgens Charl-Pierre Naudé (2004:8) is rockmusiek "in wese en oorsprong 'n proletariese uitdrukkingsvorm" wat op seggingskap berus. Dit stem ooreen met Bosman (2003:109) se bewering dat rockmusiek bekend is vir die proteskarakter daarin, vir die sosiale kommentaar wat dit lewer en die interaksie met die aktualiteite. Die essensiële van rocklirieke lê waarksynlik in die uitvoering daarvan, met die ritme, die geraas, die gesamentlike ervaring daarvan en die "cool"-beeld wat rockmusiek het (Bosman 2003: 107). Dit is moontlik die rede dat rock en performance poetry toeneem, ook in die meer kru vorme, soos Naude (2004:8) beweer.

Afrikaanse rocklirieke is vol intertekstuele verwysings na sekere gekanoniseerde Afrikaanse digters, beweer Bosman (2003:117). Verwysings soos "Afrikaners is plesierig", "'n droë wit seisoen", "die dans van ons suster", "hoera vir die reuk van 'n roer", "swart kombuis", "banneling", "Daar is geen land, so ver en woes geleë" en "ons wag op die kaptein" kom voor. Sodoende leef die Afrikaanse poësie voort in die rockmusiek en word dit toeganklik vir die gewone leser/luisteraar.

'n Nuwe rockgroep wat sedert 2004 opslae maak, is Fokofpolisiekar. Selfs die naam is vir baie manse onuitspreekbaar en word in sommige publikasies en oor radiostasies na hulle verwys as "Polisiekar". In 'n artikel in De Kat (Van der Vyfer 2004:41) sê Wynand van die groep dat dit 'n uitdaging is om musiek en lirieke te skep wat na die naam opleef. Grense is nie deel van hulle woordeskat nie en op hulle eerste cd kom 'n gevoel van opstand teen die "religieuse burokrasie" na vore. Van hulle lirieke skok, maar dit verteenwoordig 'n sekere perspektief op die samelewing. Hulle sing in Afrikaans oor temas soos "suburban-wees" en "struggle" oor "wie ek wil wees" (Van der Vyfer 2004:41).

Vervolgens word die liriek van een van Fokofpolisiekar se liriek van hulle eerste cd ontleed.

Hemel op die platteland – Fokofpolisiekar

Die eerste twee reëls van die liriek is beide vraende sinspelings op geykte idiomatiese uitdrukkings wat dui op malligheid of die pad byster raak. "Daar is 'n skroef los" of "loosing one's marbles" beteken elk dat iets buite die norm geskied, dat dit afwykend en dus onaanvaarbaar is. Deur die vrae te stel: "Kan jy my skroewe vir my vasdraai?" en "Kan jy my albasters vir my vind?" eien die spreker eers sy sogenaamde afwykendheid en verironiseer dit dan deur te vra of die aanklaer, dié wat hom beskuldig van wanverkeer, 'n oplossing het.

Hierdie versoek word onmiddellik negeer met die derde reël wat vra vir allesomvattende idees van reg en verkeerd, normaal en abnormaal, om liefs geplaas te word waar die son nie skyn nie. Sodoende skep die spreker afstand tussen homself en sy sogenaamde "skuld". Hy draai die beskuldigings wat teenoor homself en sy hele generasie gerig word terug op die anklaers, die sisteem of instelling waarna daar in die algemeen verwys word as die establishment. Dus 'n aanklag teen die dominerende ideologie wat binne 'n Suid-Afrikaanse konteks (spesifiek dié van Afrikaners) die gedaante van 'n Christelike moraliteit aanneem.

Die volgende twee vraagstellings wat in die liriek voorkom maak die spreker se standpunt duidelik. "Kan jy apatie spel?" is eerstens 'n bespotting van die establishment se waargenome oningeligtheid en tweedens op die volgelinge van die dominante ideologie se onvermoë om die nuwe apatiese generasie te begryp. En dis ook waarom die spreker dit uitspel in die volgende reëls: "Kan iemand dalk 'n god bel en vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie?". Hierdie negering van die God as gewer van betekenis en beslisser van die lewensweg, skok baie (konserwatiewe) luisteraars en sommige mense sien dit as 'n godslasterlike uiting. Apatie, godeloosheid en a-normale gedrag pas nie in by die struktuur van wat die morele meerderheid as realiteit ervaar nie. Die liriek stel dit egter dat die "normale" struktuur nie meer geldig is nie. Die wêreldbekouing in Hemel op die platteland is post-religieus, met ander woorde die uitkyk is op 'n wêreld wat die behoefte om aan die bestaan van 'n godheid te kleef, verbygegaan het. Die "los skroewe" of "verlore albasters" waarna verwys word is dus nie werklik los of verlore nie, maar word slegs so beskou deur dié wat nie deel is van die postmoderne "grenslose" wêreld waarin God nie meer nodig is nie. Daar moet daarop gelet word dat daar nie na "God" verwys word nie, maar na "'n god". Dit impliseer dus dat dit alle gelowe, alle beelde van G(g)od of gode insluit.

In die tweede deel van die liriek is daar nie meer die tipe retoriese vraagstelling soos in die eerste nie, maar word daar oorbeweeg na direkte aanspreking. Die spreker vra om regulering, roetinering en om in 'n boks geplaas te word. Hierdie stellings is doelbewus ironies omdat dit vra vir wat reeds gebeur het. Die spreker is reeds onderhewig aan hierdie inhok van vrye denke, die geforseerde konformering tot dit wat as "veilig" gereken kan word. Die woordspeling wat ontstaan met die gebruik van die woorde "boks" en "doos" inpliseer dat dié wat toelaat dat hul ingeboks word behoort tot die kategorie wat die kru interpretasie van "doos" beskryf. Die spreker maak nogmaals sy weersien teenoor die morele meerderheid bekend deur hul so aan te spreek.

Die slotreël van die liriek "stuur my hemel toe, ek dink dis in die platteland, dis hemel op die platteland" verwys na die ouer garde se indruk van 'n goeie of regverdigbare lewe. Die platteland, waarheen al die "ingehoktes" gaan, is die hemel omdat dit 'n eenvoudiger betsaan behels waarbinne die idee van 'n hemel, godheid of morele orde sin maak. Buite hierdie grense het dit egter nie meer betekenis nie. Die "hemel" soos dit religieus verstaan word, kan nie buite die platteland bestaan nie, en die platteland is hemel ondat die orde nie daar bevraagteken of bedreig word nie. Dit is veilig as gevolg van onkunde.

Die eietydse ideologie wat in hierdie liriek verwoord word, is dus die van 'n wêreld na godsdiens en die leë beskerming, die illusie van veiligheid wat die establishment bied. Hemel op die platteland is die manifes van 'n generasie wat weier om hulself in te hok of te konformeer, 'n generasie wat hul nie steur aan manings oor verbode vrugte, sogenaamde normaliteit of die bepalings van gevestigde strukture nie. 'n Ideologie wat in sterk kontras staan met die dominante, "normale" wêreldbeskouing wat in die liriek aangeval word. Dit is die stem van 'n bevryde, ongebonde Afrikanerdom wat verseg om dieselfde foute as hul voorgangers te maak. Die ideologie van 'n generasie wat nie langer om verskoning sal vra vir hulle medemenslikheid nie, wat nie meer hul andersheid as wandadig ervaar nie. 'n Ideologie van 'n generasie wat nie sal skroom om te sê waarheen 'n polisiemotor (simbool van outoriteit) maar kan gaan.

Bronnelys

1: Bosman, Martjie. 2003. Het Afrikaanse rock iets vir die poësie te sing? Stilet 15(1): 101-121.

2: Foster, Ronel en Viljoen, Louise (samest.). 1997. Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.

3: Loots, Sonja. 2004. Zoid-hulle in jong digters se plek. Rapport, 19 September, 11.

4: Naude, Charl-Pierre. 2004. Aan nuwe stemme kan nie voorgeskryf word. Die Burger, 19 Oktober, 8.

5: Van der Vyfer, Louine. 2004. Headbang in ons moedertaal. De Kat, Winter, 40-41.

6: Waldner, Mariechen. 2002. Afrikaanse digkuns herleef in rock, rap en blues. Rapport, 1 Desember, 31.

Reacties

Laat een reactie achter

Feeds

  • klik hier voor het allerlaatste (literatuur-)nieuws


    > Meer feeds...

Zoeken

  •  

Laatste reacties

Colofon

Advertenties