Die stand van die Afrikaanse poësie
Zoals eerder beloofd zal in Letterland op regelmatige basis aandacht gaan besteden aan Zuid-Afrikaanse poëzie. Deze bijdragen zullen echter niet, als aangekondigd, worden geschreven door Theo Kemp, maar door Elbie Adendorff (*), docent aan de universiteit van Stellenbosch (faculteit Afrikaans en Nederlands).
Ter inleiding een (geactualiseerd) referaat dat zij vorig jaar schreef over de stand van zaken betreffende de Afrikaanse poëzie.
Die Afrikaanse poësiesisteem teen die millenniumwending
Bepaalde tendense teen die millenniumwending, soos 'n afname in debuutbundels wat by hoofstroomuitgewers verskyn (en met hoofstroomuitgewers verwys ek spesifiek na NB-Uitgewers), lei tot die mening dat die poësie toenemend gemarginaliseerd raak. Tog blyk dit dat poësie as orale vorm of performance poetry baie gewild is. Dit kan gesien word in die toename van voorleesgeleenthede, soos die Versindaba wat in 2005 en 2006 in Stellenbosch gehou is en die suksesse van die Woordfees; asook die toename in die toonsettings van poësie.
By die 2005-Versindaba is 'n bespreking gewy aan die stand van die Afrikaanse poësie aangesien kommer uitgespreek word oor die huidige stand van die poësie, veral die sogenaamde gebrek aan nuwe stemme. Louise Viljoen van die Universiteit van Stellenbosch, as gesprekleier van die bespreking, het verwys na die feit dat die vraag na die nuwe stemme geen nuwe vraag is nie, terwyl Karen de Wet beweer dat daar nie minder publikasiegeleenthede vir digters is nie; die vraag moet eerder wees waar is die lesers. Daarteenoor voel die digter Charl-Pierre Naude minder positief oor die huidige poësie aangesien daar nie genoeg bewustheid onder die debute oor die breë intellektuele debat is nie. Reeds in 2002 is 'n lesingreeks van Die Burger by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gewy aan die vraag waar die nuwe stemme in die letterkunde is. Daniel Hugo (bekende Afrikaanse digter) het ook in 2001 sy kommer oor die stand van die poësie uitgespreek aangesien die ses debute wat vir die Ingrid Jonker-prys van 2000 oorweeg is, nie een by gevestigde uitgewers verskyn het nie. Vir die 2002-toekenning is die aanvanklike 20 bundels uitgedun tot 5, waarvan nie een by hoofstroomuitgewers gepubliseer is nie. Willie Burger, van die Universiteit van Johannesburg, was ook van oordeel dat die letterkundepryse vir debuutwerke van 2001 daarop dui dat daar 'n tekort aan sterk debute is.
Ten einde na die Afrikaanse poësiesisteem teen die millenniumwending te kyk, word die uitgewersisteem eerstens kortliks bespreek en daarna word enkele tendense in die Afrikaanse poësiesisteem onder die loep geneem.
(*) Dosent verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch. Doseer Letterkunde en Taalverwerwing. Doen tans navorsing oor performance poetry in die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poësiesisteme; asook in Taalverwerwing. Stel belang in die teater, musiek en lees graag.
Reacties